Bybels smokkel


As ek nie ’n Bybel het nie, wat dan?

Ons almal ken ’n paar aangrypende, spannende verhale oor mense wat Bybels in China insmokkel. Ek onthou ’n verhaal van ’n dominee wat ’n vals-bodem in sy sleepwaentjie gebou het en só in die verskuilde bodem Bybels versteek het. Hy is uitgevang. Die gevolg was tronkstraf.

Is Bybel-smokkelary vandag nog nodig? In ons lewenswêreld is dit amper ondenkbaar, want alles is vrylik beskikbaar. As jy literatuur nie in ons land kan bekom nie, dan is dit beslis op die internet beskikbaar. Smokkelary klink amper primitief. Mense wat Bybels in China versprei, is onwettig besig. Onwettige oortredinge word gestraf.

So, wat is aan die gang in China? China het ‘n kommunistiese regering wat Christelike aktiwiteite probeer beheer. China het een wettige Bybel-drukker, die “Amity Printing Company”. Die Chinese regering het vyf gelowe aanvaar, waarvan Christenskap die enigste geloof is wat nie toegelaat word om hul heilige boek in publieke boekwinkels te verkoop nie.

China is ’n reusagtige land met ’n groot populasie, en daar is beslis groot verskille in hoe geloof in verskillende dele “beheer” word. Bybels kan gewoonlik verkry word in groot stede, maar dit is glad nie verkrygbaar in plattelandse dorpies nie.

In 2008 is daar op 120 miljoen Christene in China geskat. Hierdie getal is steeds groeiend. In 2008 is daar 11 miljoen Bybels in China gedruk. Van daardie Bybels word net drie miljoen in China verkoop. Die res word na meer as 60 verskillende lande uitgevoer. In die lig van die groeiende kerk van China, beteken dat in 23 jaar Amity nog nie genoeg Bybels vir die helfte van die Christene gedruk sou hê nie.

Die Bybels wat in China gedruk word, bevat nie verklarende voetnota’s en kommentaar nie. Die betekenis van die Woord bly moeilik verstaanbaar. Die Bybels wat ingesmokkel word, bevat gewoonlik die verklarende dele.

Daar was laasjaar ’n debat oor die smokkelary van Bybels in China. Die Bybel Vennootskap in New South Wales in Australië het gesê dat Bybel-smokkelary onnodig en gevaarlik vir Christene is. Hulle beweer dat die Amity Drukkery oor fasiliteite beskik wat tot een miljoen Christelike boeke in ’n maand kan druk.

Die president van Geopende Deure in Amerika, Carl Moeller, sê daar sal altyd nood wees vir meer Bybels in China. Daar moet eerder gevra of Bybels effektief versprei word. Christenskap groei ook daar waar die Amity Drukkery nie is nie. Om ander verspreidingsmetodes te gebruik, is dus nodig. Die evangelie is ook nodig in plekke waar dit onwettig is. Moeller sê dat meeste gelowiges in China erken dat hulle bereid is om arrestasie te waag om ’n kopie van die Bybel te hê.

Christina Graham, direktrise van East Gates International, werk saam met China se 70 Bybel-verspreidingspunte en Christelike boekwinkels om meer Bybels as die Amity-Bybels te verskaf. Sy beweer dis baie meer effektief om op die wettige manier te werk te gaan. Dit is meer behoudend op die lang termyn. Smokkelary het gevaarlike gevolge; en selfs meer ernstig vir die Christene in China. East Gates International het gekies om die religieuse beleid van die land te respekteer.

Dis nie ’n maklike saak om smokkelary in China te beoordeel nie. Een wete is seker: daar is nie genoeg Bybels beskikbaar vir ons geestelike familie in China nie. Ons moet bid dat die regering dit sal toelaat om genoeg Bybels te druk om die groeiende bevolking se behoeftes te vervul. Tot daardie dag nie aanbreek nie, is dit noodsaaklik om Bybels op ander maniere in China te kry.

Annemarie Bijker

1. Todd Netteleton. 2010. Smuggle Bibles into China? Christianity Today. Aanlyn beskikbaar:
http://www.christianitytoday.com/ct/2010/august/23.46.html

2. Sarah Eekhoff Zylstra. 2009. Smuggling Debate. Christianity Today. Aanlyn beskikbaar:
http://www.christianitytoday.com/ct/2009/february/11.14.html