My gebed word verhoor

deur RSS 15. Julie 2010 16:56

Hoe weet ek dat my gebed verhoor word? Veral as ek sien dat God nie aan my gee wat ek van Hom vra nie, dan begin ons al gou te wonder of God my gebed werklik aanhoor. Hoe weet ek dat my gebed werklik by God uitkom? Soos iemand nou die dag vir my vra: Is daar nie dalk net iewers iets fout met die “konneksie” nie?

Wanneer ons praat oor die verhoring van ons gebede, moet ons in die eerste plek op Christus let. Dit is Hy wat vir ons intree, vir ons voorbidding doen by die Vader.

 

Wat bereik Christus deur sy voortdurende voorbidding in die hemel? Uit die breë konteks van die Skrif sal dit duidelik wees dat Christus nie sy saak bepleit voor ’n onwillige God nie. Nee, Hy het immers in die wêreld gekom om die wil van sy Vader te doen, en Hy het dit volmaak uitgevoer. Dit was die Vader se genadige plan wat Hy uitgevoer het, en deur dit te doen het Hy die Vader verheerlik. Wanneer Christus nou sy werk voortsit in die hemel, dan identifiseer Hy met, en is Hy nog steeds ten volle gerig op die wil van sy Vader.

Ons het hierdie Christus eers ken as die hoogste woord van God aan die mens, die Woord wat mens geword het. Nou leer sien ons Hom egter ook as die hoogste woord van die mens tot God – deur sy taak van voorbidding. Deur sy opstanding het ons ook gesien dat Hy die volmaak aanvaarbare advokaat vir sondaars is. Sy blote teenwoordigheid by die Vader pleit al vir ons saak. En dan pleit Hy by ’n God wat graag aan sy kinders gee wat hulle van Hom vra.

Aangesien hierdie taak wat Christus verrig van die begin tot einde ter wille van ons is, gee dit ons groot vrymoedigheid “om toe te tree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Hebreërs 10:22). Die voorbidding van Christus is ons ewige waarborg dat ons nie in ’n lugleegte bid of dat ons gebed teen die plafon vasslaan nie – solank as wat ons in Sy Naam tot die Vader bid. Ons het toegang tot die Vader deur Hom wat die ware beeld van God is. Beide Paulus en die skrywer van Hebreërs verseker ons dat geen plafon ons gebede kan keer nie, omdat ons saam met Christus gereken word, in die volle teenwoordigheid van die Vader.

 

(G Goldsworthy, 2003. Prayer and the knowledge of God. Inter-Varsity Press)

 

Dat God ons gebede in die Naam van Christus verhoor, daarvan mag ons seker wees. Dat Hy dit anders verhoor as wat ons wens of hoop, daarin moet ons leer om Hom as Vader en Koning van ons lewe te vertrou.

 

Christene in die samelewing

deur RSS 17. Junie 2010 11:59

Die plek wat ons as Christene in die samelewing moet hê, is iets wat ons gedagtes behoort besig te hou. Reeds in die vroeë kerk het Christene uitgestaan vir hulle diens, en so hulle Heer nagevolg en hul Koning verheerlik. Hier is ‘n gedeelte wat Justinus geskryf het, waarskynlik rond 155 nC:

 

Ons wat vroeër ons vreugde in hoerery gevind het, omhels nou alle kuisheid;

ons wat voorheen gebruik gemaak het van magiese middels, wy ons nou volledig aan die goeie en ongebore God;

die versameling en vermeerdering van geld en goed was voorheen vir ons die mees belangrike ding op aarde, nou leef ons met gemeenskaplike goedere en deel uit aan alle behoeftiges;

ons wat mekaar gehaat en mekaar se lewens verwoes het, en wat weens hulle ander gewoontes nie met mense van ‘n ander ras wou saamleef nie, leef nou, sins die koms van Christus, op goeie voet met hierdie mense en bid vir ons vyande;

ons span ons in om hulle wat ons haat te oortuig om volgens die goeie voorskrifte van Christus te leef sodat hulle ons deelgenote sal word - deelgenote in dieselfde blye hoop wat God, die Koning van alle mense, vir ons weggelê het.    

Wonderlike hulp by ons opvoeding

deur RSS 2. Junie 2010 19:07

Opvoeding is moeilik. Dit voel dikwels asof ’n mens kan praat en praat, maar dit maak nie ’n verskil nie. Dit is net asof die woorde geen effek het nie. Asof ons kinders dit nie verstaan nie. Hulle bly eintlik maar net hulle eie kop volg.

Ja, natuurlik het dissipline ook nog sy plek in hierdie hele proses om ons kinders te leer wat dit beteken om die Here te dien, maar dissipline beteken nog nie dat ons kinders dit alles werklik begin glo nie. Hoeveel gesag ’n ouer ook al het, ons kan dikwels maar baie magteloos voel as dit kom by die opvoeding van ons kinders. Ons besef maar net weer dat daar werklik ’n werk van bo nodig is om ons kinders op God se weë te laat gaan. Maar somtyds kom die Gees ons ook op ’n ander wonderbaarlike manier te hulp – ’n weg waardeur ons nuwe geleenthede kry om te praat oor die Here en sy verbond met ons.

 

Ons lees daarvan in Deuteronomium 6. Die bekende gedeelte wat gaan oor die opvoeding van ons kinders. Ons ken dit almal, die belangrike woorde oor hoe ons met ons kinders moet praat oor die weë van die Here, of ons nou sit of staan, op reis is of gaan lê. Maar onthou ons ook wat aan hierdie woorde voorafgaan? Want in die woorde vooraf gaan dit nie oor wat ons vir ons kinders moet vertel nie, maar allereers oor dit wat in ons eie lewe moet sigbaar word. Allereers moet hierdie wonderlike genade van die Here ons hart vervul en in ons dade sigbaar word. Dit wat ons so aanhoudend ons kinders moet bybring, moet allereers in ons eie hart wees (6:6).

Wanneer dit waar is, dan sien ons iets wonderliks gebeur! Deuteronomium 6 eindig immers met ons kinders wat begin vrae vra (6:20). Die kinders begin vra wat dit alles beteken.  Dit is die werklikheid wat die Gees bewerk as hierdie geloof in ons eie hart lewe. Waar ons self soveel geleenthede soek om aan ons kinders te verduidelik wat die lewe met die Here inhou, en ons voel ons kom nêrens met hierdie gesprekke nie, maak die Gees self deure vir ons oop. Kinders wat vra omdat hulle wil weet. Tien keer het ek al met my kind oor die saak gepraat (en ons moet!), en skielik vra hy my daaroor, asof dit die eerste keer is dat hy daarmee in aanraking kom. 

Ja, die Gees draai dinge skielik om. Kinders wat self dinge by pa en ma raaksien, en wil hoor wat dit inhou. Kinders wat iets van die vreugde en rykdom van die lewe met God sien by hul ouers, hul grootouers, hul medegelowiges in die kerk, en wil weet wat die geheim van so ’n wonderlike lewe is.

 

En dan is dit opvallend wat die seun in Deut 6 vra. Hy vra nie: hoe lyk ’n christen se lewe nie. Hy vra nie na die inhoud van die gebooie en die weg van die Here nie. Hy ken dit reeds. Hy sien dit immers in sy ouers se huis! Nee, hy vra na die betekenis van dit alles. Hy vra die “hoekom”-vrae. Die vrae wat diep delf na wat die diepste oorsaak is hoekom so ’n weg gevolg word. Hy vra die vraag wat ons dadelik uitbring by kern van ons geloof: Wie ons God is, en sy magtige dade in ons lewe. ’n Heerlike geleentheid om oor ons God te kan getuig!

 

Die Gees wek vrae by kinders wat leef by opreg christelike ouers. Die Gees ken ons swakhede, en kom ons op ’n wonderlike manier, heel onverwags te hulp.  

Gedig: Die aambeeld - God se Woord

deur RSS 26. Mei 2010 10:03

The Anvil - God's Word

 

Last eve I passed beside a blacksmith’s door

And heard the anvil ring the vesper chime

Then, looking in, I saw upon the floor

Old hammers, worn with beating years of time

 

“How many anvils have you had”, said I

“To wear and batter all these hammers so?”

“Just one,” said he, and then with twinkling eye

“The anvil wears the hammers out, you know”.

 

And so, thought I, the anvil of God’s Word

For ages sceptic blows have beat upon;

Yet, though the noise of falling blows was heard,

The anvil is unharmed – the hammers gone

 

                                                Author unknown

 

 

 

Sleutelwoorde:

Gedigte

My volkome Verlosser

deur RSS 18. Mei 2010 11:29

Wanneer u glo en tot Christus kom, dan moet u al u eie-geregtigheid agterlaat, en niks anders saambring as u sonde nie. So moeilik is dit! Wanneer u tot Christus kom, moet u al u vroomheid, heiligheid en goeie werke laat vaar, en slegs u swakhede en ellende saambring. Anders pas Chistus nie by u nie, en u ook nie by Christus nie. Christus wil 'n Verlosser wees en niks anders nie, en daarom moet u niks anders as 'n verlore sondaar wees nie. Anders sal Christus en u mekaar nooit vind nie. 

Thomas Wilcock, 1948.

Hoekom bid ek?

deur RSS 11. Mei 2010 21:39

Bid ek omdat ek iets by God nodig het of bid ek omdat ek graag by God wil wees? Waardeur word my gebed gekenmerk: deurdat ek vir God vertel hoe ek graag wil hê dat my lewe moet lyk, of geniet ek eenvoudig om God te prys en my hart vol dank voor Hom uit te stort?

Natuurlik staan hierdie dinge nie teenoor mekaar nie. Maar deur die vrae so te stel moet ek myself ondersoek: Gaan my gebede nog werklik oor God? Ek wat voor sy troon staan en nie uitgepraat kan raak oor wie Hy is, nie? Ek wat Hom innig liefhet en graag by Hom wil wees? Of het ek God net nodig, en gaan dit alles in werklikheid oor my?

Hoe wonderlik dat kinders na hulle Vader mag gaan en vra. Dat Vader hulle selfs beveel om te kom en te vra. Maar in hierdie weg wat die Here vir ons wys, moet alles steeds bly gaan oor die verwondering: Kyk wie is hierdie Drie-Enige God – en ek mag met Hom leef!  

"My knieë pyn nog nie so erg nie - kom, laat ek weer bid".

Mag ons weer gaan leer by die Ou Testamentiese digters se diepe besef wat gebed is:

"O God, U is my God, U soek ek;

My siel dors na U,

my vlees smag na U in ‘n dorre en uitgedroogde land.

Só het ek U in die heiligdom aanskou,

Om u sterkte en u heerlikheid te sien.

Want u goedertierenheid is beter as die lewe;

My lippe moet u prys.

So sal ek u prys, my lewe lank".

(Psalm 63:2-5a)

Miskien moet ek my gebed tog maar begin deur iets van God te vra: Dat Hy my sal help om werklik te bid.  En as God my daartoe bring om werklik te bid, sal ek ook die diepe besef kry dat ek eintlik niks anders meer nodig het nie.

Bou saam: Vaste gebedstye?

deur RSS 11. Mei 2010 10:10

Moet ons as Christene vaste gebedstye oorweeg? Sou dit goed wees as Christene vir hulself vaste tye in die dag eenkant sit om te bid? Dat ons te midde van oorvol agendas en 'n dag wat met ons weghardloop, die vaste omgang met die Here veilig stel? Sou dit goed wees om sulke vaste gebedstye deel te maak van ons lewenstyl?

'n Klompie vrae. Dink saam en bou saam! Ek dink u sal saamstem dat die saak van gebed 'n onmisbare steen word in die bouwerk aan 'n nuwe Christelike lewenstyl. 

Sleutelwoorde:

Bou saam

As die Bybel nie 'n duidelike voorskrif gee nie...

deur RSS 23. Maart 2010 16:41

Dit bly maar altyd ’n moeilike ding om antwoorde uit te Skrif te kry oor sake waarin die Skrif nie duidelike voorskrifte gee nie. Ek het onlangs op ’n paar mooi riglyne afgekom wat ons hierin kan help. Die skrywer (B Gritters) het eers oor die gelowige se vryheid in Christus gepraat. Christus het ons vrygekoop, en dit beteken dat ons nie onder mense se juk leef nie. Menslike voorskrifte en idees het geen gesag oor ons nie. Maar hoe moet ons nou met hierdie vryheid omgaan wat Christus vir ons aan die kruis verwerf het? Gritters gee vir ons hierdie riglyne.

 

Bykans op elke punt waar die Skrif ons leer oor die vryheid wat ons in Jesus het as dit gaan oor die middelmatige dinge (= die dinge waaroor die Skrif nie direkte voorskrifte gee nie), is daar ‘n duidelike waarskuwing om nie die vryheid te verkrag nie. Hierdie waarskuwings roep ons op om ons volwassenheid uit te leef deur sekere belangrike vrae oor hierdie middelmatige dinge aan onsself te vra.

 

Eerstens, wanneer Paulus verklaar: “Alles is my geoorloof,” voeg hy vinnig by ter wille van ons volwassenheid, “maar nie alles is nuttig nie” (1 Kor. 6:12; 1 Kor. 10:23). Uit liefde vir God en die naaste, is die volwasse kind van God in staat om die volgende vraag te beantwoord: “Is my gebruik van die ding lonend vir my en vir ander?”

 

Tweedens sê Paulus: “Alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie” (1 Kor 6:12). Beide Luther en Calvyn waarsku dat, omdat ons heer is van die goeie gawes van God, moet ons nie toelaat dat hulle meester word oor ons nie. Drank, tabak, kos, sport – dit alles het daardie gevaarlike krag. Christene is vry. Moenie slaaf van hierdie dinge word nie.

 

Derdens waarsku Paulus: “Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ‘n struikelblok word vir die wat swak is nie” (1 Kor 8:9). Ons gee om vir ons naaste; ons bewys hulle liefde. Dit maak dus saak wie raaksien wat ons doen, of wanneer ons ons daarvan weerhou om iets te doen. Omdat ons lief is vir ons naaste, wil ons nie graag hê dat hy moet struikel nie.

 

Vierdens vra die Woord van God dat enige iets wat ons doen, gedoen word “tot eer van die Here” (Rom 14:6). Is die saak suiwer en wettig vir my? Dan, as ek klaar is, sal ek vir God kan sê: “Dankie Here, vir daardie goeie gawe” (1 Kor, 10:30, 1 Tim. 4:4, 5). Doen dit “tot eer van die Here.” “Doen alles tot verheerliking van God” (1 Kor. 10:31).

 

Vry, met die skitterende vryheid van Jesus Christus, sal ons niemand toelaat om dit van ons te steel nie. Ons hou vas aan Calvyn se advies (soos hy in sy kommentaar oor 1 Korinthiërs 10:29 skryf): “Die godvresende mens rig hom volledig op die troon van God, het geen agting vir mense (se wysheid) nie, is heeltemal tevrede met die seën van vryheid wat deur Christus vir hom veilig gemaak is, is nie gebonde aan mense nie, ook nie gebonde aan situasies (voorskrifte) van sekere tye of plekke nie”. (Uit: Not commanded, not forbidden – Standard Bearer 1992).

 

Wanneer ons ons dus deur iets laat “bind”, dan doen ons dit omdat ons daarvan oortuig is dat die saak of daad tot eer van God en tot heil van ons naaste is.

'n Groot geloof

deur RSS 19. Maart 2010 10:32

Ons lê baie klem daarop dat ons ‘n groot geloof moet hê. Maar as ek nie so ‘n groot geloof het nie? Hoe kry ek ‘n groot geloof? Is dit maar net ‘n besluit wat ek moet neem, ’n keuse wat ek moet maak, om weer ‘n groot geloof te hê?

Ek kry die idee dat dit is hoe baie mense daaroor dink. Geloof is iets wat hier binne-in my gereguleer word. Ek word oor en oor en oor opgeroep om ‘n groot geloof te hê, en eintlik is dit net iets wat ek moet “doen”. So hoor ons baie preke en toesprake waarin 80% van die tyd spandeer word om op te roep tot ‘n groot geloof. Maar help dit my regtig in my kleingeloof?

Kom ons neem ’n alledaagse voorbeeld. Indien ek nie oortuig is van die waarde van ‘n sekere produk of item nie, hoe verander my “geloof” in hierdie produk? Deurdat die verkoopsman nog harder begin skreeu dat ek hierdie produk moet koop, of deurdat hy my beter begin uitlê wat hierdie produk inhou en watter waarde dit het? Sekerlik tog die laaste. Hoe meer ek die produk ken en verstaan en “sien”, hoe meer sal my vertroue in die produk groei.

Natuurlik is daar baie gebreke in hierdie voorbeeld indien ons dit net so gaan toepas op ons lewe met die Here. Maar ek wil dit uitwys: Vir my geloof om te groei moet ek nie met myself besig wees nie, maar moet ek na die Here kyk. Hoe meer die Drie-enige God aan my verkondig word, hoe groter sal my geloof groei. Nie my self-motivering om ‘n groter geloof te hê, of die prediker wat harder skreeu dat ek ‘n groot geloof moet hê, gaan dit aan my gee nie. Laat ons ophou besig wees met onsself! As Christus vir my geteken word vanuit sy Woord, en ek Hom “sien” deur die werking van die Gees, dan sal ek Hom steeds meer omhels, en Hom leer vertrou met my hele lewe.

Vir ’n groot geloof kyk ek al hoe meer weg van myself, en fokus al hoe meer op my God!

Sleutelwoorde:

Wandel met God

Bou saam: Skinder

deur RSS 16. Maart 2010 10:13

Vooraf lê dit soos iets soets op die tong wat haastig gedeel moet word, na die tyd laat dit 'n bitter smaak in die mond. Skinder. Dit is nou werklik iets wat nog nooit die tevredenheid kon gee wat dit vooraf beloof het nie. En tog is dit 'n strik waarin ons telkens weer val.

Hoe moet ons as Christene oor ander mense praat? Wanneer is iets skinder en wanneer nie? Hoe moet ons met mense omgaan wat teenoor ons besig is om te skinder oor 'n ander persoon? Kom ons soek saam na 'n Christelike weg om met hierdie moeilike saak om te gaan. Voel vry om te reageer en saam te bou aan 'n nuwe Christelike lewenstyl.

(Hierdie is die eerste bousteen wat gelê word! Met die rubriek "Bou saam" wil ons weer gesamentlik as gelowiges 'n nuwe eenvormige, Bybelse lewenstyl bou. Bid, lees, soek, worstel. Dink saam oor hoe so 'n Christelike lewenstyl lyk. Volgens die Skrif is dit 'n lewenstyl waarop ons baie seën kan verwag, vir onsself, vir ons naaste, vir ons land, tot eer van ons God. Kom ons luister en help mekaar!  Hierdie is die eerste van vele onderwerpe wat nog ter sprake sal kom)

Sleutelwoorde:

Bou saam